Meer oor…

#DinkNuut het ontstaan uit ‘n liefde vir mense en die behoefte dat mense met mekaar oor die weg moet kom. Van jonk af was ek ‘n kind wat nie van konflik of baklei gehou het nie en dit so ver moontlik vermy het deur myself uit situasies uit te praat. My liefde en omgee vir mense het gevloei uit ‘n christelike huishouding waar my ouers ‘n absolute woordeboek voorbeeld van ‘n huwelik vol getrouheid, ondersteuning en liefde is. Daardie opvoeding het my gebring tot ‘n tyd in my lewe waar ek begin met mense werk deur vir ‘n maatskappy verkope te doen, ‘n verkoop konsultant. Vir 10 jaar het ek die sentrale gedeelte van ons land plat gery en met mense gewerk, na hul stories geluister, opinies gelig en my verhaal met hul te deel. Gedurende hierdie tyd het ek getrou en ‘n seun ryker geword, wat na ‘n baie kort ruk tot ‘n aardskudding ontaard het. Ten spyte van my pogings om ons huwelik te beredder deur hulp te soek het my vrou die skei proses aan die gang gesit. Die hele ding was hart en siel verskeurend omdat ek myself nou in ‘n baklei vind met die persoon wat langs my gestaan het met die belofte voor die kansel dat ek haar tot in die donkerste dieptes sal bystaan. Die hele proses van heen en weer modder gooi en beskuldigings het my pal in trane gehad met vrae oor hoe ons tot hier gekom het, wat ek anders kon of kan doen om die situasie te verlig, myself te verbeter en haar hart sag te maak. My lewe het ‘n omkeer punt bereik met die bywoning van ‘n kursus wat deur Dr. Pieter van Jaarsveld wat by my kerk aangebied was oor hoe jou eie denke jou lewe negatief kan beïnvloed, Romeine 12 vers 2 (AFR83) : “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Ek het my denk patrone verander en my prentjie van die lewe ingekleur met my fokus op dit wat belangrik is. My betrokkenheid by die kerk het toegeneem in die vorm van die tegniese span van ons jeug orkes wat my by talle geleenthede laat betrokke word het waar God se woord net meer en meer vir my betekenis begin kry het.

Dit het nie die baklei met my vrou weg gevat nie. Dit het nie die hartseer en trane weg gevat nie. Dit het ook nie my skei saak vergemaklik of my meer tyd saam met my seun gegee nie. Wat dit wel gedoen het was om my vrede in my hart te gee, daardie haat gevoel in my laat bedaar en my toegelaat om die rowwe terrein waardeur ek loop voor te kan sit sonder om my toon te bly stamp en daarna in tale te praat. Ek het my hart oop gemaak vir God se liefde en gevra hy moet my stuur. Dit was die afskop van besige tyd in my lewe wat die voltooiing van ‘n paar kursusse oor ouerskap en egskeiding asook die hulp van ‘n Teologiese Sielkundige behels het waar ek tot die besef gekom het dat ek meer werd is as wat ek besef. Tydens een van hierdie kursusse het ek gepraat oor die egskeidings paadjie wat ek stap asook my passie vir mense en my gedagtes wat bly dwaal dat ek moontlik ander mense deur hierdie donker tye in hul lewe kan help. Van daar af het die een persoon na die ander waarmee ek gepraat het my aangemoedig om hierdie idee van my verder te vat en het ek begin navors oor die moontlike opsies tot ek by MyFiladelfia uitgekom het en geregistreer het vir Pastorale Berading.

Waarheen God my lei van hier af, sal net Hy weet, maar waar ek benodig word, sal ek, in Sy naam dien.